Die Groot Plaasproe @Livestock – van bok tot bier!

Tentoonstelling bring produsente en verbruikers bymekaar
August 11, 2017
The Groot Plaasproe @Livestock – from goat to beer!
August 11, 2017

Kaas, wyn, boetiekbier, boerbokvleis, skaapstertjies, afval en roomys . . . al dié lekkertes en méér wag by die Groot Plaasproe op Saterdag 14 Oktober 2017 op die plaas Sandringham buite Stellenbosch.

Agri-Expo, organiseerder van die gewilde Suid-Afrikaanse Kaasfees, bied hiermee ‘n splinternuwe proe-ervaring van álles wat die plaaslewe bied, vir beide stads- én plaasjapies. Besoekers kan uitsien na unieke kombinasies soos Bok&Bier (boerbokvleis en boetiekbier langs die braaivleisvuur). Allerlei nisprodukte soos wyn, Karoolam-sosaties, roosterkoek, biefstuk, joghurt en roomys sal by kos- en wynstalletjies te proe en te koop wees.

Oud én jonk kan die plaaslewe ontdek tydens ‘n voldagprogram wat optredes deur die gewilde Afrikaanse sangers Adam Tas en Nic Stevens insluit. “Line”dansers sal besoekers vermaak én touwys maak om saam te kan dans, met musiek deur Die Wildberries. Neem deel aan  boeresport soos sakresies, eiergooi en toutrek; skryf in vir die Groot Roomys-eet-kompetisie vir deelnemers van alle ouderdomme; of kry ‘n span bymekaar vir die Groot Braai-kompetisie waarvoor jy jou eie vleis kan saambring of by ‘n stalletjie kan koop.

Besoekers sal meer as 300 verskillende diere kan ontmoet. Hou jou lyf beoordelaar deur te stem vir die oulikste dier in die Groot Gunsteling-kompetisie. Poseer saam met ‘n Percheron (‘n wit reuseperd so sterk soos ‘n trekker), of saam met ‘n boerbok of enige ander dier, en sorg dat jy inskryf vir die Groot Selfie-kompetisie. Kinders, ook dié wat nie eers ‘n troeteldier by die huis het nie, word genooi om as deel van ‘n spesiale Townies-pretskou ‘n melkbok in die arena rond te lei. Die jongklomp kan ook op ponies ry, ‘n troeteldierplaas besoek, en saam met miniatuurperde en -donkies kuier.

Ontdek die verskil tussen alpakkas en lamas, sien hoe skaaphonde met skape werk, en probeer om 50 verskillende soorte hoenders uitmekaar te ken – van ‘n kapokkie sό piepklein dat hy in jou handsak kan pas tot ‘n Orpington sό groot dat jy hom agter op ‘n bakkie moet laai. Vind uit waar die melk in die bottel vandaan kom, leer hoe skape geskeer word, en kyk hoe verskillende diere se wol gespin word. Besoek die reuse Italiaanse Romagnola-beespaartjie, Waldo en Olivia, in die luukse suiwelkoeihotel en moenie die kroning van die FNB-Suiwelkoningin en die BKB-Rooivleiskoning of -koningin misloop nie.

Die program vind van 09:00 tot 18:00 plaas. Kaartjies is by Computicket en die hek beskikbaar teen R80 vir volwassenes, R50 vir pensioenarisse en skoliere (14 tot 18 jaar) en gratis vir kinders van 13 jaar en jonger. Vir meer inligting, besoek www.livestock.org.za, volg Livestock op Facebook, Twitter of Instagram, of kontak Agri-Expo by 021-975 4440 of admin@agriexpo.co.za.

Die Groot Plaasproe vorm deel van die vierde Agri-Expo Livestock, ‘n wêreldklas-tentoonstelling van die Suid-Afrikaanse vee- en suiwelbedryf, wat jaarliks duisende landbou-entoesiaste na Sandringham bring. Dit vind van Donderdag 12 tot Saterdag 14 Oktober 2017 plaas. Kaartjies vir Donderdag en Vrydag se program is R60 per dag, R50 vir pensioenarisse en skoliere (14 tot 18 jaar) en gratis vir kinders van 13 jaar en jonger, ook beskikbaar by Computicket en by die hek.