Vierde Melkbokinligtingsdag by Agri-Expo Livestock

Haaskampioenskap-lenteskou by Agri-Expo Livestock
September 8, 2017
Fourth Dairy Goat Information Day at Agri-Expo Livestock
September 15, 2017

Vierde Melkbokinligtingsdag by Agri-Expo Livestock

 

Melkbokboere – en enigeen wat in kleinveesuiwel belangstel – kan vanjaar weer gratis by kenners kom kers opsteek by die vierde Melkbokinligtingsdag op Donderdag 12 Oktober 2017 tydens Agri-Expo Livestock op Sandringham buite Stellenbosch.

Hierdie unieke Wes-Kaapse platform is ‘n geleentheid vir opkomende kleinveeboere om by melkbokboerdery betrokke te raak. Vanjaar se program sluit weer sprekers van reg oor die land in:

  • Dr Gillian Declercq (Staatsveearts by die Gautengse Department van Landbou en Landelike Ontwikkeling) kom deel haar kennis oor hoe Boererate as eenvoudige oplossing vir algemene kwale by plaasdiere ingespan kan word – ideaal vir kleinboere wat nie altyd toegang tot veeartse het nie.
  • Rina Belcher (stigterslid van Southern Africa Goat and Sheepsmilk Processers Organisation en die Small Stock Dairy Association) sal vertel hoe sy oor die afgelope 14 jaar die Belnori Boutique Cheesery opgebou het.
  • Die bekende dr Faffa Malan (bestuurder van die Herkouerveterinêre Vereniging vanSuid-Afrika (RuVASA)) sal weer waardevolle inligting oor entstowwe en doseermiddels deel. Sy deelname word moontlik gemaak deur Landbouweekblad.
  • Die boerbokboer Pip Nieuwoudt (Voorsitter van die Wes-Kaapse Boerbokklub) en die melkbokkenner Donald Mouton (plaasbestuurder van Fairview en voormalige voorsitter van die SA Melkbok Telersgenootskap) sal ‘n praatjie en praktiese sessie aanbied oor die verskille en die geleenthede rondom melkbokke en vleisbokke.

Die program word finansieel ondersteun deur die Wes-Kaapse Departement van Landbou en het ten doel om vaardighede te ontwikkel, marktoegang te verbeter en volhoubaarheid te bevorder.

Die Melkbokinligtingsdag vind van 08:00 tot 13:30 in die Agri-Expo-konferensiesentrum plaas. Dié inligtingsdag is een van Kaap die Goeie Hoop Landbougenootskap (ook bekend as Agri-Expo) se projekte om die beeld van landbou te bevorder. Bywoning is gratis en enige navrae kan aan Breyton Milford by 021 975 4440 of breyton@agriexpo.co.za gerig word.

Agri-Expo Livestock vind van 12 tot 14 Oktober 2017 plaas. Vir meer inligting, besoek www.livestock.org.za.