Adam Tas by die Groot Plaasproe

Beef Cattle Information Day at Agri-Expo Livestock
September 18, 2017
A first in SA – working sheepdog auction at Agri-Expo Livestock
September 29, 2017

Die gewilde Afrikaanse sanger Adam Tas tree op Saterdag 14 Oktober 2017 by die Groot Plaasproe by  Sandringham buite Stellenbosch op. Stads- én plaasjapies sal dié splinternuwe ervaring van álles wat die plaaslewe bied, geniet. Tas, self ‘n boer en groot natuurliefhebber, is van 16:30 tot 18:15 op die verhoog. Hy sal liedjies van sy jongste album, “Patatas & Pyptabak”, asook van sy Johnny Cash huldigingsalbum, sing. Nic Stevens, solo-sanger en bekend as een van “Die Broers”, tree van 14:30 tot 16:30 op en Die Wildberries van 12:00 tot 14:30. Lyndansers sal besoekers van 10:00 tot 14:30 vermaak én touwys maak om saam te dans.

Die program sluit ook boeresport (11:00 tot 13:00) in, asook die Groot Roomys-eet-kompetisie (13:15) vir deelnemers van alle ouderdomme, en die Groot Braai-kompetisie (11:00 tot 13:00) vir solo- of spanbraaiers, waarvoor jy jou eie vleis kan saambring of by ‘n stalletjie kan koop. Allerlei nisprodukte soos wyn, kaas, sosaties, roosterkoek, biefstuk, joghurt en roomys sal by stalletjies te proe en te koop wees. Maak reg vir unieke kombinasies soos Bok&Bier (boerbokvleis en boetiekbier langs die braaivleisvuur), jaffles, skaapstertjies, wildspotjie, afvalpotjie, gin, biltong en droëwors, varsgebakte plaasbrood, melktert, koeksisters, skaapkop, stywepap met smoor en nog baie meer.

Kinders, ook dié wat nie eens ‘n troeteldier by die huis het nie, kan as deel van ‘n spesiale Townies-pretskou (11:00 tot 12:00) ‘n melkbok in die arena rondlei. Die jongklomp kan op ponies ry, ‘n troeteldierplaas besoek, en saam met miniatuurperde en -donkies kuier. Daar is ook werkende skaaphonddemonstrasies (12:00 tot 13:00), skaapskeer (elke uur van 10:00 tot 13:00) en hondevertonings en -kompetisies (13:15 tot 18:00) op die program. Hou jou lyf beoordelaar deur te stem vir die oulikste dier in die Groot Gunsteling-kompetisie of poseer saam met enige dier vir die Groot Selfie-kompetisie. Ontdek die verskil tussen alpakkas en lamas, kyk hoe verskillende diere se wol gespin word en beleef die kroning van die FNB-Suiwelkoningin en die BKB-Rooivleiskoning of -koningin. Haasliefhebbers moenie die Cape Rabbit Club se Haaskampioenskap-lenteskou in die splinternuwe Rabbit Hub misloop nie – met ‘n troeteldierskou om 10:30.

Die Groot Plaasproe vorm deel van die vierde Agri-Expo Livestock, ‘n wêreldklas-tentoonstelling van die Suid-Afrikaanse vee- en suiwelbedryf, wat jaarliks duisende landbou-entoesiaste na Sandringham bring. Dit vind van Donderdag 12 tot Saterdag 14 Oktober 2017 van 09:00 tot 18:00 plaas. Kaartjies is by Computicket en die hek beskikbaar teen R80 (Saterdag), R60 (Donderdag of Vrydag), R50 vir pensioenarisse en skoliere (14 tot 18 jaar) en gratis vir kinders van 13 jaar en jonger. Lyndansers (of aspirantdansers) kan afslagkaartjies teen R50 koop by die lyndansbeoordelaar Karin van der Merwe (karin@bootscooters.co.za of 082 837 2682). Vir meer inligting, besoek www.livestock.org.za, volg Livestock op Facebook, Twitter of Instagram, of kontak Agri-Expo by 021-975 4440 of admin@agriexpo.co.za.