Bekende beesteler maak geskiedenis

Free farm fun for the kids
October 3, 2017
Well-known cattle breeder makes history
October 17, 2017

Andrew Masterson, bekende beesteler van die Oos-Kaap, het vanjaar geskiedenis gemaak deur sowel die suiwel- as die vleisbees-interraskampioenskappe by Agri-Expo Livestock te wen. Masterson se Holstein-koei Milagro Sexie 13140 is Saterdag op Sandringham buite Stellenbosch as die FNB-Suiwelkoningin gekroon en sy Swart Angus-koei Milagro Power 1324 as die BKB-Vleiskoningin.

Masterson, van die plaas Milagro buite Oesterbaai in die Oos-Kaap en voorsitter van die Angus-beestelersgenootskap van Suid-Afrika, sê dit is vir hom ‘n baie groot eer veral omdat die standaard by Livestock baie hoog is. “Vanjaar se Livestock is die beste blootstelling wat ek nόg by ‘n skou in die land gekry het – ek het nog nooit soveel mense by ‘n beesskou gesien soos Saterdag nie. Livestock bied vir ons ‘n uitstekende bemarkingsgeleentheid om ons beste diere ten toon te stel, eerstens aan die publiek en tweedens aan voornemende kopers,” sê Masterson.

Volgens Johan Ehlers, Hoof Uitvoerende Beampte van Agri-Expo, is dit ‘n besondere prestasie vir een teler om beide interraskampioenskappe te wen. “Agri-Expo Livestock is oor die afgelope vier jaar gevestig as die mees gesogte vee-ekspo in Suid-Afrika en bied die grootste suiwel- en vleisbees-interraskampioenskappe van sy soort aan, met meer as 200 beeste van uitstaande gehalte wat aan die skou deelneem. Dit is uitsonderlik om elf vleisbeesrasse en drie suiwelrasse by ‘n skou te hê en is ‘n bewys dat Agri-Expo Livestock op internasionale standaard is. Ons is trots daarop dat ons vanjaar byna 14 000 mense by Agri-Expo Livestock ontvang het,” sê Ehlers.

Agri-Expo Livestock word ondersteun deur meer as 20 telersgenootskappe. Dit is tans die grootste suiwelskou in Suid-Afrika met deelname deur die Holstein-, Ayrshire- en Jersey-telersgenootskappe. In die vleisbees-interraskampioenskappe ding 11 verskillende rasse in ses verskillende klasse mee. Die Hereford-, Simmentaler, Limousin- en Angus-rasse het vanjaar koning gekraai, met Masterson se Swart Angus wat met die gesogte titel weggestap het.

Die suiwel-interraskampioenskappe is beoordeel deur Herman Duvenage, senior beoordelaar van alle vleisbees- en suiwelrasse in Suid-Afrika, sowel as twee internasionale beoordelaars, naamlik Harry Schuiling van Holland en Neal Smith van die VSA. Hulle deelname is moontlik gemaak deur Semex Suid-Afrika en die Ayrshire-telersgenootskap. Die vleisbees-interraskampioenskap is beoordeel deur Duvenage en deur Willie de Jager, voorsitter van die Suid-Afrikaanse Interrasbeoordelaarsvereniging.

Agri-Expo, ‘n nie-winsgewende landbougenootskap, bevorder die beeld van landbou deur bemarkingsinisiatiewe soos ekspo’s, waaronder die Suid-Afrikaanse Kaasfees en Agri-Expo Livestock. Vir meer inligting, besoek www.agriexpo.co.za, volg Agri-Expo op Facebook of Twitter, of kontak Agri-Expo by 021 975 4440 of admin@agriexpo.co.za.

FNB-Suiwelkoningin: Andrew Masterson se Holstein-koei Milagro Sexie 13140 is op Saterdag 14 Oktober 2017 by Agri-Expo Livestock op Sandringham buite Stellenbosch as die FNB-Suiwelkoningin gekroon. Links is die beoordelaars Herman Duvenage, Neal Smith (VSA) en Harry Schuiling (Holland). Regs is Andrew Masterson, Lize Loots (landbou: bemarking en geleenthede by FNB), Charl Sandenbergh (FNB se streekhoof van landbou in die Wes- en Oos-Kaap), Johan Beukes (landboubestuurder van FNB), en Colette en Amy Masterson

BKB-Vleisbeeskoningin: Andrew Masterson se Swart Angus-koei Milagro Power 1324 is op Saterdag 14 Oktober 2017 by Agri-Expo Livestock op Sandringham buite Stellenbosch as die BKB-Vleiskoningin gekroon. Van links na regs is Danwill Daniels (hanteerder), Andrew Masterson, Colette Masterson, Hein Vollgraaff (Bestuurder lewende hawe BKB Wes-Kaap), Johan Ehlers (Hoof Uitvoerende Beampte Agri-Expo), Willie de Jager (interrasbeoordelaar en voorsitter van die SA Interrasbeoordelaarvereniging) en Herman Duvenage (interrasbeoordelaar en SA Holstein algemene bestuurder)