Waldor die groot(ste) gunsteling

Well-known cattle breeder makes history
October 17, 2017
Waldor the big(gest) favourite
October 20, 2017

 Waldor die reuse- Italiaanse Romagnola-bul is grόόt, en nόú is hy ook die Groot Gunsteling. Dié vyfjarige 1,2 ton swaar bul is op Saterdag 14 Oktober by die Groot Plaasproe op Sandringham buite Stellenbosch met dié titel bekroon. Duisende mense het hierdie viering van alles van die plaaslewe bygewoon, ‘n nuwe toevoeging tot Agri-Expo Livestock, die mees gesogte vee-ekspo in Suid-Afrika.

Die publiek kon vanjaar vir die eerste keer vir hul gunstelingdier by die ekspo stem – met Tolla (die Boerbok), Strepies (die een week-oue miniatuurdonkie), Stella (die wees-llama) en Clara (die Meatmaster) as Waldor se mededingers. Besoekers kon ook unieke proe-ervarings soos gin-gegeurde kaas, Wagyu en Boerbokvleis ontdek. Adam Tas, Nic Stevens en die Wildberries het gesorg vir musiek en besoekers kon selfs leer lyndans.

Volgens Johan Ehlers, Hoof Uitvoerende Beampte van Agri-Expo (die organiseerders van die ekspo), is hulle  opgewonde oor die entoesiasme waarmee sowel die publiek as die landboubedryf hierdie nuwe konsep ondersteun het. “Met die Groot Plaasproe by Agri-Expo Livestock slaag ons in ons doel om ‘n platform te skep wat mense die geleentheid bied om landbou weer van nader te ervaar,” sê Ehlers. “Ons bedank graag elke besoeker, uitstaller, vertoner en vennoot wat bygedra het om van die Groot Plaasproe en Agri-Expo Livestock ‘n reusesukses te maak.”

Andrew Masterson, ‘n bekende beesteler wat geskiedenis gemaak het deur sowel vanjaar se suiwel- as vleisbees-interraskampioenskappe te wen, sê hy het nog nooit soveel mense by ‘n beesskou gesien nie: “Dit bied vir ons ‘n wonderlike bemarkingsgeleentheid om ons beste diere aan die publiek bekend te stel.”

Waldor is een van die mededingers by dié gesogte vleisbees-interraskampioenskappe. Wanneer hy nie in die ring is nie, is hy en sy eienaars, Willem en Luzahn Wagener, deel van die Santam Diere-laning by die ekspo waar veral kinders speel-speel meer van landbou leer. Hulle stalletjie, Wotan Romagnola Stud, is vanjaar aangewys as die wenners van die beste diere-uitstalling by die ekspo.

Volgens Willem Wagener, president van die Romagnola-beestelersvereniging in Suid-Afrika, is die Romagnola ‘n baie ou ras en is sy doel in Suid-Afrika hoofsaaklik vir kruisteling. Wagener sê Agri-Expo Livestock is uniek omdat dit daarin slaag om die verbruiker wat die produk op die rak koop aan die wetenskap agter die produk bloot te stel: “Vanjaar het al my verwagtinge oortref. Leerders van die De la Bat Skool vir Dowes en heelwat mense in rolstoele kon ook vir Waldor ontmoet – dit is hierdie besonderse interaksie tussen mens en dier wat dit vir ons as uitstallers die moeite werd maak.”

Agri-Expo, ‘n nie-winsgewende landbougenootskap, bevorder die beeld van landbou deur bemarkingsinisiatiewe soos ekspo’s, waaronder die Suid-Afrikaanse Kaasfees en Agri-Expo Livestock. Die Groot Plaasproe vind volgende jaar op Saterdag 13 Oktober by Agri-Expo Livestock (Donderdag 11 tot Saterdag 13 Oktober 2018) plaas. Vir meer inligting, besoek www.livestock.org.za, volg Livestock op Facebook, Twitter of Instagram, of kontak Agri-Expo by 021-975 4440 of admin@agriexpo.co.za.