Vele eerstes by 2017 Agri-Expo Livestock

Waldor the big(gest) favourite
October 20, 2017
Many firsts at 2017 Agri-Expo Livestock
November 7, 2017

Vanjaar se Agri-Expo Livestock, wat van 12 tot 14 Oktober 2017 op Sandringham buite Stellenbosch aangebied is, was weer ‘n groot sukses – met vele eerstes by dié driedaagse wêreldklas-tentoonstelling van die Suid-Afrikaanse vee- en suiwelbedryf, wat jaarliks duisende landbou-entoesiaste lok.

Andrew Masterson, bekende beesteler van die Oos-Kaap, het vanjaar geskiedenis gemaak deur sowel die suiwel- as die vleisbees-interraskampioenskappe by Agri-Expo Livestock te wen. Sy Holstein-koei Milagro Sexie 13140 is as die FNB-Suiwelkoningin gekroon en sy Swart Angus-koei Milagro Power 1324 as die BKB-Vleisbeeskoningin.

Werkende skaaphonde is vir die eerste keer in 30 jaar in Suid-Afrika tydens ‘n demonstrasie opgeveil. Die bekende skaaphondafrigter WA Hugo se twee honde is vir onderskeidelik R13 500 en R20 000 deur afslaers van BKB verkoop. Twee Percheron-hingste van die Elsenburg-stoet is ook verkoop, asook Pinto’s en miniatuurperde van Hantam Boerdery.

Daar was vanjaar weer ‘n Skaap Hub met skaapskeer- en ‘n Alpakka Hub met wolspin-demonstrasies. Nuwe toevoegings sluit ‘n Wildbedryf Hub en ‘n Haas Hub in, waar die Cape Rabbit Club se Lentekampioenskapskou plaasgevind het. Ander interessante uitstallers was die SA Boerbokvereniging, en die Cape of Good Hope SPCA en ‘n veearts wat nou by die ekspo betrokke is om seker te maak dat alle diere ten alle tye veilig en gemaklik is.

Sowat 2  500  laer- en hoërskoolleerders, van skole sover as Kleinmond, het die ekspo besoek vir ‘n gratis skoleprogram ondersteun deur die Wes-Kaapse departement van landbou. Die De la Bat Skool vir Dowes het die program vanjaar vir die eerste keer bygewoon. Die program sluit elf interaktiewe stasies in waar leerders onder andere kan sien hoe koeie gemelk word; diere kan aanraak in die Santam Diere-laning; en meer kan leer oor landbouberoepsgeleenthede.

Die Angus-beestelersgenootskap van Suid-Afrika se Eeufeesvieringe was ook een van die hoogtepunte by vanjaar se ekspo. Telers van verskeie provinsies het byeengekom om dié mylpaal te vier. Die program het hul 100ste Algemene Jaarvergadering, ‘n Angus-skou en ‘n prysuitdelingsfunksie, waar erelidmaatskap aan vyf baanbrekers van die bedryf toegeken is, ingesluit.

Besoekers kon op Saterdag 14 Oktober by die eerste Plaasproe by Agri-Expo Livestock unieke proe-ervarings soos gin-gegeurde kaas, Wagyu en Boerbokvleis ontdek. Adam Tas, Nic Stevens en die Wildberries het gesorg vir musiek en besoekers kon selfs leer lyndans. Die publiek kon vanjaar vir die eerste keer vir hul gunstelingdier by die ekspo stem, met Waldor die reuse- Italiaanse Romagnola-bul wat met die louere weggestap het.

Volgens Johan Ehlers, Hoof Uitvoerende Beampte van Agri-Expo (die organiseerders van die ekspo), het hulle vanjaar byna 14 000 mense by Agri-Expo Livestock ontvang. “Ons is opgewonde oor die entoesiasme waarmee sowel die publiek as die landboubedryf vanjaar se ekspo ondersteun het. Ons bedank graag elke besoeker, uitstaller, vertoner en vennoot wat bygedra het om van Agri-Expo Livestock ‘n reusesukses te maak,” sê Ehlers. “Agri-Expo is trots daarop dat ons ‘n platform kan skep wat aan mense die geleentheid bied om landbou weer van nader te kan ervaar.”

Agri-Expo, ‘n nie-winsgewende landbougenootskap, bevorder die beeld van landbou deur bemarkingsinisiatiewe soos ekspo’s, waaronder die Suid-Afrikaanse Kaasfees. Agri-Expo Livestock vind volgende jaar van Donderdag 11 tot Saterdag 13 Oktober 2018 plaas. Vir meer inligting, besoek www.livestock.org.za, volg Livestock op Facebook, Twitter of Instagram, of kontak Agri-Expo by 021-975 4440 of admin@agriexpo.co.za.