Die Groot Plaasproe – van bok tot bier!

Agri-Expo Livestock – ’n wêreldklasvertoonvenster vir die veebedryf
July 26, 2018
Agri-Expo Livestock bemagtig melkbokboere
August 31, 2018

VIER DIE PLAASLEWE BY DIE GROOT PLAASPROE

Roosterkoek, boetiekbier, skaapstertjies, wyn, Wagyu-burgers en roomys . . . al hierdie lekkertes en méér wag van Donderdag 11 tot Saterdag 13 Oktober 2018 by die Groot Plaasproe op Sandringham buite Stellenbosch. Dié plaasfees was verlede jaar só gewild dat dit vanjaar ‘n volle drie dae duur.

‘n Kaartjie na die fees met meer as 150 stalletjies bied ‘n proe-ervaring van álles wat die plaaslewe bied. Nie net is daar plaaskos te kies en te keur nie; feesgangers kan ook meer as 300 plaasdiere van nader leer ken én boonop pryse wen met hul braai- en dansvernuf.

Van bok tot bier én Pinotage!

Avontuurlustige smulpape word uitgedaag vir ‘n “Bok&Bier”. Dit behels die pas-en-proe van boerbokvleis, wat eksklusief by die fees beskikbaar is, saam met boetiekbier soos ‘n kersiegeur-Sarie Marais. Op Internasionale Pinotage-dag, Saterdag 13 Oktober, kan feesgangers ‘n verskeidenheid wyne van dié kultivar saam met biltong geniet tydens ‘n proe deur die Pinotage-vereniging. Potjiekos, bokmelkkaas, stokbrood, jenewer en bokkoms is net ‘n paar van die lekkernye wat te proe en te koop sal wees.

Wen met jou braaibroodjie

Die Groot Plaasproe is op soek na die beste braaibroodjie- en steakbraaiers in die Kaap. Bobaas-braaiers kan inskryf vir enige of al drie kategoriëe van die braaikompetisie op Saterdag 13 Oktober, naamlik tradisionele of gourmet-braaibroodjies (van 12:00 tot 13:00) of steakbraai (van 14:00 tot 15:00). Deelnemers moet hul eie bestanddele en roosters saambring terwyl braaidromme, hout en vuuraanstekers voorsien word. Voorafinskrywing by www.diegrootplaasproe.co.za gee deelnemers boonop gratis toegang tot die fees. SPAR-geskenkbewyse ter waarde van R6 500 is op die spel. Die beoordelaars is bekende kospersoonlikhede en -bloggers en lede van die Die Braai Crew.

Vermaak met die Broers en wêreldkampioen-lyndansers

Op Saterdag 13 Oktober kan groot en klein hul slag wys met boeresport, ‘n roomyseet-kompetisie, asook op die dansvloer. Die vermaakprogram skop om 10:00 af met 250 lyndansers, waaronder twee wêreldkampioene, wat feesgangers sal vermaak én touwys maak om saam te dans, met musiek deur die Wildberries. Daarna volg ‘n sokkiekompetisie en optredes deur Wynand en Chereé en die gewilde Broers.

Meer as 300 plaasdiere

Kinders kan verskeie plaasdiere ontmoet – van reuse-Percherons tót miniatuurperdjies. Die jongklomp kan ook op ponies ry, ‘n melkbok rondlei en selfies saam met diere neem. Die Groot Plaasproe is opvoedkundig én prettig: Ontdek die verskil tussen alpakkas en lamas, sien hoe skaaphonde met skape werk, en probeer om 50 verskillende soorte hoenders uitmekaar te ken. Vind uit waar die melk in die bottel vandaan kom, leer hoe skape geskeer word en kyk hoe wol gespin word. Kinders kan ook hul konyne inskryf vir ‘n troetelkonynskou wat op Saterdag 13 Oktober om 10:30 deur die Kaapse Konynklub aangebied word.

Datum, tyd en kaartjies

Die fees vind daagliks van 08:00 tot 18:00 plaas. Kaartjies is by Computicket en die hek beskikbaar teen R100 vir volwassenes en R30 vir skoliere (gratis op Donderdag en Vrydag). Toegang vir kinders onder ses jaar is gratis. Pensioenarisse betaal op Donderdag en Vrydag slegs R50. Kaartjies sluit toegang in tot Agri-Expo Livestock, ‘n wêreldklas-landboutentoonstelling, met die kroning van die FNB-Suiwelkoningin en die BKB-Rooivleiskoning/in op Saterdag 13 Oktober as hoogtepunt. Vir meer inligting, besoek volg die Groot Plaasproe op Facebook, Twitter of Instagram, of kontak Agri-Expo by 021 975 4440 of admin@agriexpo.co.za. Kliek hier om kaartjies te koop!