Agri-Expo Livestock – ’n wêreldklasvertoonvenster vir die veebedryf

Agri-Expo Livestock – A world-class showcase of the livestock industry
July 26, 2018
Die Groot Plaasproe – van bok tot bier!
July 26, 2018

‘n Wêreldklastentoonstelling van die Suid-Afrikaanse veebedryf en sy waardekettings wag op besoekers aan die vyfde Agri-Expo Livestock, wat vanjaar van Donderdag 11 tot Saterdag 13 Oktober 2018 op Sandringham buite Stellenbosch plaasvind.

‘n Eerste by Livestock is die SA Holstein Nasionale Kampioenskappe waartydens besoekers diere van hoogstaande kwaliteit van regoor Suid-Afrika in die ring te sien sal kry.

Grootste van sy soort

Livestock is oor die afgelope vier jaar gevestig as die mees toonaangewende vee-tentoonstelling in die land. Die skou speel gasheer vir die grootste suiwelskou in Suid-Afrika én die grootste vleisbees-interraskampioenskap van sy soort, met die kroning van die FNB-Suiwelkoningin en die BKB-Rooivleiskoning/in op Saterdag 13 Oktober as die hoogtepunt.

Andrew Masterson van die Oos-Kaap het verlede jaar geskiedenis gemaak deur beide kampioenskappe te wen. Masterson beskryf dit as ‘n groot eer, eerstens omdat die gehalte by Livestock baie hoog is, en tweedens weens die blootstelling aan die meeste besoekers nóg wat hy al by ‘n beesskou ervaar het.

Fokus op opvoeding

Livestock se gewilde gratis melkbok- en vleisbeesinligtingsdae, ondersteun deur die Wes-Kaapse Departement van Landbou en Standard Bank, sluit vanjaar interessante sprekers soos Llewellyn Angus en dr Faffa Malan in.

Sowat 2  500  laer- en hoërskoolleerders, van skole sover as Kleinmond, besoek jaarliks die ekspo vir ‘n gratis skoleprogram, ondersteun deur die Wes-Kaapse Departement van Landbou. Die program sluit elf interaktiewe stasies in waar leerders onder andere kan sien hoe koeie gemelk word; diere kan aanraak; en meer leer oor landbouberoepsgeleenthede.

Die program sluit ook die Old Mutual Insure Streekjeugskou, die Landbouweekblad-uitdaging vir versorgers en hanteerders, die Wes-Kaapse Boerboelskou, die Cape Rabbit Club se Lenteskou, skaaphondveilings en ‘n verskeidenheid ander aktiwiteite in. As deel van die Groot Plaasproe sal verskeie stalletjies plaaskos, wyn en boetiekbier verkoop. Die Broers en ander gewilde kunstenaars tree Saterdag 13 Oktober op. Livestock vind daagliks van 08:00 tot 18:00 plaas. Besoek www.livestock.org.za vir die volledige program. Kaartjies is by Computicket en by die hek beskikbaar. Vir meer inligting, kontak Agri-Expo by 021 975 4440 of admin@agriexpo.co.za.