Agri-Expo Livestock bemagtig melkbokboere

Die Groot Plaasproe – van bok tot bier!
July 26, 2018
Agri-Expo Livestock empowers dairy goat farmers
August 31, 2018

Melkbokboere – en enigeen wat in kleinveesuiwel belangstel – kan vanjaar weer gratis by kenners kom kers opsteek by die vyfde jaarlikse Melkbokinligtingsdag op Donderdag 11 Oktober 2018 tydens Agri-Expo Livestock op Sandringham buite Stellenbosch.

Volgens Breyton Milford, Operasionele Bestuurder van Agri-Expo, is die inligtingsdag een van dié landbougenootskap se projekte om nuwe toetreders tot landbou te bemagtig en op te lei in vennootskap met die Wes-Kaapse Departement van Landbou.

“Die inligtingsdag het ten doel om vaardighede te ontwikkel, marktoegang te verbeter en volhoubaarheid te bevorder,” sê Milford. “Dit is ‘n waardevolle geleentheid vir kleinveeboere om meer te leer oor melkbokboerdery en die moontlikhede wat hierdie groeiende bedryf bied.”

Vanjaar se program sluit kundiges van reg oor die land in:

  • WA Hugo, wat op ‘n kleinhoewe buite Lambertsbaai onder die handelsnaam Bettie Bok kaas maak, deel sy kennis oor die pad na suksesvolle melkbokboer (soos die belangrikheid van goeie genetika) en klein kaasmaker – ideaal vir nuwe en aspirantmelkbokboere.
  • Estalanie Marais van Karoo Bokmelk gee raad oor die suksesvolle bemarking van unieke bokmelkprodu Karoo Bokmelk is reeds etlike kere bekroon vir hul boetiekkase, waaronder met die gesogte SA Kampioen-toekenning vir Bokmelk Halloumi in 2018.
  • Dr Chris van Dijk, Hoof Uitvoerende Beampte van die Melkprodusente-organisasie (MPO) bied ‘n praatjie aan oor risiko’s in die melkbokbedryf.
  • Dr Faffa Malan, Suid-Afrika se bekendste virtuele veearts en bestuurder van die Herkouerveterinêre Vereniging vanSuid-Afrika (RuVASA), stel sy nuwe, verbeterde “Vra vir Faffa”-portaal as deel van die Kundiges-afdeling op Landbou.com bekend. Dok Faffa se deelname aan Livestock word moontlik gemaak deur Landbouweekblad.
  • Die melkbokkenner Donald Mouton, plaasbestuurder van Fairview en voormalige president van die SA Melkbok Telersgenootskap, deel wenke oor eenvoudige oplossings vir effektiewe bestuur.
  • Samson Morebodi, melkboktoesighouer van Fairview, demonstreer praktiese raad vir maklike hantering van melkbokke.

Volgens Mouton hou sterk groei in die verbruik van bokprodukte geweldige potensiaal vir die bedryf in. “Daar is egter ook ‘n groot behoefte aan basiese opleiding,” sê Mouton. “Die manier waarop ons kennis tydens hierdie inligtingsdag oordra, dra by tot vooruitgang vir die bedryf én sy waardeketting.”

Die Melkbokinligtingsdag vind van 08:00 tot 13:00 in die Standard Bank-konferensiesentrum plaas. Bywoning is gratis, maar plek is beperk tot 120 mense. Vir registrasie en navrae, kontak Breyton Milford by 021 975 4440 of breyton@agriexpo.co.za.

Agri-Expo Livestock vind van 11 tot 13 Oktober 2018 plaas. Vir meer inligting, besoek www.livestock.org.za.