Agri-Expo Livestock huisves 20ste SA Holstein Nasionale Kampioenskappe

2 500 learners expected at Agri-Expo Livestock
August 31, 2018
Agri-Expo Livestock hosts 20th SA Holstein National Championships
August 31, 2018

Die Nasionale Kampioenskappe van die SA Holstein-beestelersgenootskap vind vanjaar van Donderdag 11 tot Saterdag 13 Oktober by Agri-Expo Livestock op Sandringham buite Stellenbosch plaas. Dit is die 20ste keer dat die kampioenskappe aangebied word, maar slegs vir die derde keer in die Wes-Kaap in die 106-jarige bestaan van die genootskap. Die eerste kampioenskappe is in 1949 by die Randse Skou in Johannesburg gehou.

Volgens Johan Ehlers, Hoof Uitvoerende Beampte van Agri-Expo, is die vyfde en sewende kampioenskappe in 1970 en 1981 by die Kaapse Skou in Goodwood, ook deur Agri-Expo, aangebied. “Dit is dus baie gepas dat Agri-Expo Livestock as die grootste suiwelskou in Suid-Afrika, wat vanjaar vir die vyfde keer aangebied word, die kampioenskappe huisves,” sê Ehlers. “Hulde sal ook gebring word aan Holstein-rolspelers wat diep spore getrap het tydens ‘n spesiale Aand van die Legendes.”

Volgens Herman Duvenage, rasdirekteur van SA Holstein, sal besoekers diere van uitstekende gehalte van regoor Suid-Afrika in die ring kan sien. “Livestock word beskou as ‘n uitstekende platform vir telers om hul beste diere ten toon te stel aan beide die publiek én voornemende kopers,” sê Duvenage. “Ons nasionale skou is altyd ‘n hoogtepunt vir enigeen wat die belange van dié ras op die hart dra.”

SA Holstein se Algemene Jaarvergadering vind op Woensdag 10 Oktober plaas, gevolg deur die Nasionale Kampioenskappe van Donderdag 11 tot Saterdag 13 Oktober.

Livestock is veral gesog vir sy suiwel-interrasskou wat deur die grootste drie suiwelrasse, die Holstein-, Ayrshire- en Jersey-telersgenootskappe, ondersteun word. Die kroning van die FNB-Suiwelkoningin op Saterdag 13 Oktober is die hoogste eer wat aan ‘n teler toegeken word. ‘n Holstein-koei, Milagro Sexie 13140 van Andrew Masterson, bekende teler van die Oos-Kaap, het verlede jaar dié kroon gedra.

Internasionale Holstein-beoordelaar

‘n Hoogtepunt by vanjaar se suiwelskou is die deelname van die internasionale Holstein-beoordelaar, Brian Carscadden van Kanada. Carscadden het al in meer as 28 lande beoordeel, waaronder by nasionale skoue in 18 lande. Carscadden se deelname word moontlik gemaak deur Semex Suid-Afrika en die Holstein-telersgenootskap van Kanada.

Agri-Expo Livestock is van Donderdag 11 tot Saterdag 13 Oktober daagliks van 08:00 tot 18:00 oop vir die publiek. Die program sluit vleisbees-interraskampioenskappe, ‘n streeksjeugskou, veilings, ‘n gratis skoleprogram, vleisbees- en melkbokinligtingsdae en Die Groot Plaasproe-kosstalletjies in.

Besoek www.livestock.org.za vir die volledige Livestock-program. Kaartjies is by Computicket en die hek beskikbaar teen R100 vir volwassenes en R30 vir skoliere (gratis op Donderdag en Vrydag). Toegang vir kinders onder ses jaar is gratis. Pensioenarisse betaal op Donderdag en Vrydag slegs R50. Vir meer inligting, kontak Agri-Expo by 021-975 4440 of admin@agriexpo.co.za.

Interessante feite:

  • Die SA Holstein-beestelersvereniging is die grootste suiwelrasvereniging in Suid-Afrika. Holsteins produseer die meeste van die melk wat deur die publiek verbruik word en is ook die ras wat die meeste werk skep.
  • Die Holstein-ras is die wêreld se grootste suiwelkoeiras met byna 30 miljoen koeie wat in dertig lande aangeteken is. Die voordeel vir die Suid-Afrikaanse suiwelvervaardiger is dat die heel beste diere uit ‘n baie groot bevolking gekies kan word met groot verbeteringe in genetika oor redelike kort periodes van tyd.
  • Die gemiddelde Holstein-koei het ‘n verhoogde melkproduksie van meer as 12 000 kg in vergeleke met 50 jaar gelede.
  • Volgens SA Holstein is hulle die enigste organisasie wat amptelik deur die World Holstein Friesian Federation (WHFF) en die Diere Verbeteringwet erken word vir die uitreiking van stambome van geregistreerde Holsteins in Suid-Afrika. SA Holstein is ook die enigste telersgenootskap wat kopiereg op hul stambome besit (sedert 1946).