Suid-Afrikaanse Werkende Skaaphondveiling by Agri-Expo Livestock

Agri-Expo Livestock wins AAXO Award
September 10, 2018
Experts give advice about beef cattle farming at Agri-Expo Livestock
October 2, 2018

‘n Veiling van werkende skaaphonde is verlede jaar vir die eerste keer in meer as 30 jaar in Suid-Afrika gehou. Dié jaarlikse SA Skaaphondveiling word vanjaar weer op Vrydag 12 Oktober 2018 tydens die driedaagse Agri-Expo Livestock op Sandringham buite Stellenbosch aangebied.

Volgens die bekende skaaphondafrigter WA Hugo van Lambertsbaai is die voordeel van die veiling dat die honde reeds afrigting ontvang het en gereed is om deel te word van belangstellende veeboere se werksmag.

“Die honde se werksvermoë en die waarde van werkende skaaphonde word tydens die veiling aan voornemende kopers en die publiek gedemonstreer,” sê Hugo. “Vanaf Donderdag 11 Oktober tot voor die veiling op Vrydag 12 Oktober word daar deurlopend demonstrasies gedoen. Die hanteerders sal verduidelik wat oor die algemeen van ‘n skaaphond verwag word en ook wat elke hond se sterk punte is.”

Volgens Hugo is die grootste uitdaging om die regte hond by die regte baas en spesifieke werksituasie te bring. Vir hierdie rede beman die Suid-Afrikaanse Skaaphondvereniging (SASDA) ‘n stalletjie om inligting met belangstellendes te deel. Voornemende kopers word aangemoedig om hier met die hondeverkopers te gesels sodat hulle ‘n beter idee kan vorm oor kopers se spesifieke behoeftes.

In 2017 is twee honde deur Hugo op die veiling verkoop. “Lex, ‘n ten volle afgerigte drie-en-‘n-half-jarige teef, het reeds baie ondervinding in skaapwerk gehad, terwyl Jim, ‘n belowende jong reun, al die nodige afrigting ontvang het, maar nog nie baie ondervinding in plaaswerk gehad het nie. Albei honde is na uitstekende nuwe huise en ná ‘n jaar is al twee eienaars nog baie ingenome met hulle koop.

“Behoorlik afgerigte skaaphonde kan vir veeboere van onskatbare waarde wees, maar kopers moet onthou dat elke hond sy eie persoonlikheid met voorkeure en afkeure het,” sê Hugo.

Honde van drie bekende afrigters word vanjaar op die veiling aangebied.  Videos wat die honde se werksvermoë tentoonstel kan op die YouTube-kanaal SA Sheepdog Auction gevind word. Die veiling deur afslaers van BKB vind op Vrydag 12 Oktober van 14:00 tot 15:00 in die Westvaal-vertoonarena plaas. Die veiling sluit ook vyf Percherons (vier merries en een reun) van die bekende Elsenburg-stoet en drie miniatuurperde van die MNB-stoet in. Belangstellende kopers kan die volgende persone kontak: Pippa Phillips (skaaphonde) by 083 392 1956 of ajfp@isales.co.za, Marline Burger (Percherons) by 021 808 5375 en MNB (miniatuurperde) by 082 728 4643 of 082 229 0219.

Agri-Expo Livestock vind van 11 tot 13 Oktober 2018 plaas. Vir meer inligting, besoek www.livestock.org.za.