Haaskampioenskap-lenteskou by Agri-Expo Livestock

Rabbit Championship Show at Agri-Expo Livestock
September 8, 2017
Vierde Melkbokinligtingsdag by Agri-Expo Livestock
September 15, 2017

Die Cape Rabbit Club se Kampioenskap-lenteskou vind vanjaar van 12 tot 14 Oktober 2017 by Agri-Expo Livestock op Sandringham buite Stellenbosch plaas.

Inskrywings stroom tans in vir dié skou wat beoordeel word deur die internasionale beoordelaar Brian C Platt van die Verenigde Koninkryk (VK) in samewerking met die bekende Suid-Afrikaanse alle-rasse-beoordelaar Karoline Steenekamp. Platt, ‘n afgetrede teler, is ‘n distriksadviseur van die Britse Haasraad sowel as voorsitter van verskeie haasverenigings en -skoue in die VK. Hy dien op die spesialisbeoordelaarspaneel van die Britse Haasraad en tree as beoordelaar op by die Oktober 2017 Londen Kampioenskapskou.

Beoordeling vind op Donderdag 12 Oktober 2017 in die “Rabbit Hub” plaas. Verskeie rasse is reeds ingeskryf.  Inskrywings sluit op Woensdag 27 September 2017.

Die publiek kan die hase daagliks (Donderdag 12 tot Saterdag 14 Oktober) van 10:00 tot 18:00 besigtig. Hase kan ook ingeskryf word vir ‘n spesiale troeteldierskou wat om 10:30 op Saterdag 14 Oktober plaasvind. Die inskrywingsfooi is R20 en inskrywings sluit op 4 Oktober. Om in te skryf, of vir meer inligting, kontak vir Simone van Zyl by caperabbitclub@gmail.com of 083 231 0399 of Karoline Steenekamp by 082 867 9139. Laai die inskrywingsvorm vir die troetelhaasklas hier af.

Die Cape Rabbit Club

Die Cape Rabbit club is in April 2013 deur Karoline Steenekamp, Simone van Zyl en ‘n klein groep telers gestig. Hulle eerste kampioenskapskou is in 2013 aangebied. Die klub bevorder die teel van opregte hase.

Karoline Steenekamp: ‘n Gebore haasliefhebber

“My ma, Marion Keller, ook ‘n bekende teler en beoordelaar, was besig om by die Randse Skou te beoordeel, toe kraampyne haar na die Queen Victoria Hospitaal laat haas het. Ek is gebore, in ‘n kombers toegedraai, en saam met haar terug na die skou om die beoordeling af te handel. Hase is sedertdien my lewe – as kind het ek onder haar toesig hase geteel. Ná haar aftrede het ek die telery oorgeneem. Ek is ‘n beoordelaar sedert 1974 en is betrokke by die SA Beoordelaarspaneel. Ek het onlangs die boek RABBITS: The South Africa All Breeds Standards of Excellence gepubliseer en is ook besig om ‘n telershandleiding saam te stel. Die Cape Rabbit Club is my “haashuis” waar ek vir verskeie jare as voorsitter en beoordelaar betrokke was. In Julie het my lewensdroom – om in die VK te beoordeel – waar geword toe ek beoordelaar by die New Forest skou was.”

Hoe om jou haas voor te berei vir ‘n skou:

  • Hase se gesondheid moet uitstekend wees.
  • Hulle ore, neus, stert, pels en voetkussings moet skoon wees.
  • Punte sal afgetrek word vir vlekke op die pels of voetkussings.
  • Toonnaels moet geknip wees.
  • Maak seker dat die pels van langhaarrasse nie gekoek is nie, bv. Angora en Jersey Wooly (hierdie rasse moet daagliks voor ‘n skou geborsel word).

Agri-Expo Livestock, ‘n wêreldklas-tentoonstelling van die Suid-Afrikaanse vee- en suiwelbedryf, bring jaarliks duisende landbou-entoesiaste na Sandringham. Dit vind van Donderdag 12 tot Saterdag 14 Oktober 2017 van 09:00 tot 18:00 plaas. Kaartjies kos R80 vir Saterdag, R60 vir Donderdag of Vrydag, R50 vir pensioenarisse en skoliere (14 tot 18 jaar) en gratis vir kinders van 13 jaar en jonger, beskikbaar by Computicket en by die hek. Vir meer inligting, besoek www.livestock.org.za, volg Livestock op Facebook, Twitter of Instagram, of kontak Agri-Expo by 021-975 4440 of admin@agriexpo.co.za.