‘n Unieke plaaservaring wag op die hele gesin by die Groot Plaasproe

Best in industry gather at Livestock
September 17, 2019
Industry and public benefit from Livestock
October 16, 2019

Roosterkoek, boetiekbier, skaapstertjies, wyn, Wagyu-burgers . . . al hierdie lekkertes en méér wag op Saterdag 12 en Sondag 13 Oktober 2019 by die Groot Plaasproe op die Sandringham-plaas buite Stellenbosch. Dié bekroonde plaaservaring, wat vir die derde jaar aangebied word, bied iets van álles van die plaaslewe vir die hele gesin – nie net is daar plaaskos te kies en te keur nie; feesgangers kan meer as 300 plaasdiere van naby leer ken, lyndans op die maat van bekende kunstenaars én pryse wen deur hul eie burgers of braaibroodjies vir ‘n kompetisie in te skryf!

Van bok tot bier en jenewer tot skaapkop

Tameletjie, halloumi, koedoesalami en boetiekjenewer – selfs heuninggeur of nie-alkoholies – is net ‘n paar van die lekkernye in die Standard Bank Food Lane. Vir die smulpape is daar ‘n keuse tussen lams-, wilds- en beesstertpotjiekos, asook die kaviaar van beesvleis, Wagyu. Om alles te kroon, kan lekkerbekke vooraf ‘n skaapkop per e-pos bestel by charlotte@agriexpo.co.za. Avontuurlustiges kan gerus die “Bok&Bier” probeer – boerbokvleis saam met ‘n boetiekbier soos ‘n kersiegeur-Sarie Marais of vele ander!

Proe Pinotage en biltong op Pinotage-dag

Op Internasionale Pinotage-dag, Saterdag 12 Oktober, kan feesgangers teen geen ekstra koste wyne van dié kultivar én van die beste biltong in die Boland proe saam met kenners van die Pinotage-vereniging en die Old Mutual Insure Wellington Wynroete. Op Sondag 13 Oktober bied die wynroete ook ‘n gratis proe van top-Shiraz uit dié distrik saam met wildsvleis aan. Die proeë vind om 12:00 in die Standard Bank Konferensiesentrum plaas waar feesgangers betyds moet aanmeld om een van 80 sitplekke te verseker.

Vermaak vir die hele gesin

‘n Groot Plaasproe-kaartjie sluit vermaak deur bekende kunstenaars in. In die kuiertent met sy reusedansvloer skop die program daagliks om 10:00 af met 250 lyndansers wat feesgangers sal vermaak én touwys maak om saam te dans met musiek deur die Wildberries. Daarna volg ‘n sosiale danskompetisie en optredes deur die countrysanger Pieter Mohr en die gewilde Nic Stevens. Net langsaan wag Wêreldbeker-rugby op die grootskerm. In die Braai-Arena kan kinders leer om stokbrood te maak, hul slag met toutrek wys én deelneem aan ‘n roomyseet-kompetisie met heerlike pryse op die spel!

Meer as 300 plaas- én skaars diere

Op kinders wag daar die besonderse ervaring om meer as 300 plaasdiere te ontmoet – van reuse-Percherons tót miniatuurperdjies. Die jongklomp kan ook op ponies ry en selfies saam met skaars diere soos reusewitbees-Romagnolas neem. Vind uit waar die melk in die bottel vandaan kom, sien hoe skaaphonde met skape werk en leer hoe skape geskeer word. Kinders kan ook hul konyne inskryf vir ‘n troetelkonynskou wat op Saterdag 12 Oktober om 11:00 deur die Kaapse Konynklub aangebied word. Kyk ook uit vir konynspring-demonstrasies en praatjies oor hoe om jou konyn te versorg. Splinternuut vanjaar is Arabierperd-vertonings wat beloof om skouspelagtig te wees met ruiters in fabelagtige kostuums en woestynperde wat fyn kan dans.

Skryf in en wen met jou braaibroodjie of burger

Reken jy dat jou braaibroodjie of burger die beste in die Kaap is – bewys dit deur in te skryf vir die Groot Plaasproe se braaikompetisies in samewerking met Die Braai Crew. Alle braaiers word genooi om hul spesiale, geheime-resep, tuisgemaakte hamburgers by die Braai-Arena te kom braai-en-bou op Saterdag 12 Oktober (van 12:00 tot 13:00). Op Sondag 13 Oktober is dit braaibroodjie-liefhebbers se beurt om te kom wys watter woema in hulle broodjies steek – enige kinkels is toelaatbaar. Deelnemers moet hul eie bestanddele en roosters saambring terwyl braaidromme, hout en vuuraanstekers voorsien word. Inskrywings is gratis en deelnemers wat vooraf inskryf vir die kompetisies by www.diegrootplaasproe.co.za kry boonop gratis toegang tot die hele fees. ‘n Paneel beoordelaars sal die wenners aanwys en heerlike pryse is op die spel.

Inligting en kaartjies

Besoekers kan ook handgemaakte messe, leerhandsakke, gansveerbeddegoed, boerseep en ingelegde produkte verwag. Veteraantrekkers sal ook by die fees te sien wees.

Die fees vind daagliks van 09:00 tot 17:00 plaas. Kaartjies is by Computicket en die hek beskikbaar teen R120 vir volwassenes en R30 vir skoliere. Toegang vir kinders onder ses jaar is gratis. Vir meer inligting, besoek www.diegrootplaasproe.co.za, volg die Groot Plaasproe op Facebook, Twitter of Instagram, of kontak Agri-Expo by 021 975 4440 of admin@agriexpo.co.za.

*Saterdag-kaartjies sluit toegang in tot Agri-Expo Livestock, ‘n wêreldklastentoonstelling van die Suid-Afrikaanse vee- en suiwelbedryf, met die kroning van die FNB-Suiwelkoningin en die BKB-Rooivleiskoning/in as hoogtepunt.